Welkom tuis

Hartlike Christus groete. Welkom by die Noord-Natal Distrik (NND) van die KwaZulu-Natal-Vrystaat Konferensie se nuwe webtuiste.

In breë trekke

Die hoop en oogmerk van hierdie webtuiste is om kommunikasie en verbintenisse tussen die sustergemeentes in die Noord-Natal Distrik te bou en te ondersteun. Dit poog ook om ‘n digitale evangelisasie gereedskapstuk daar te stel om Noord-Natal, en selfs die wyer Afrikaanse publiek, te bereik met die Drie-Engele Boodskappe.  

In diepte

Kom ons loer ‘n bietjie na die woord “webtuiste.” 

Die “web” verwys na die internetkuberruim. ‘n Ontasbare virtuele ruimte wat digitaal betree word en oor geografiese grense strek. Ruimte suggesteer pakplek, spasie, selfs vertrek. Dink aan ‘n ruim vertrek. Een skrywer het dit omskryf as ‘n ruim sitkamer waarin elkeen wat die internet betree teenwoordig is. Geen ander vertrekke bestaan nie, slegs die een, enkele sitkamer. Elkeen wat die internet betree beskik oor die geleentheid om ander internetverbruikers te ontmoet en hulle kan deur ander op hul beurt betrek word in hierdie “sitkamer.” 

“Tuiste” bring warmte, gemak en familie tot ons gedagtes. ‘n Fisiese tuiste begrens ook bure. Net só ook die internetkuberrium. Paulo C. Oliveira (2019, 1) se skrywe, “The Rise of the Digital Neighbor: A Theoretical Concept for Mission Renewal in the Digital Age,” bepeins hierdie konsep. Hy vra, “wie is my [digitale] buurman?” (Oliveira 2019, 13). 

Die Noord-Natal Distrik bestaan tans uit vyf sustergemeentes en drie tuisgroepe wat wyd geografies verspreid lê. Die Distrik is in die KwaZulu-Natal-Vrystaat Konferensie van Sewendedag Adventiste en die vyf gemeentes is amptelike Sewendedag Adventiste gemeentes in die breër Sewendedag Adventiste Kerk. Die term sustergemeente(s) sluit aan by die familie in “tuiste” en dui op ‘n familie verbintenis. 

Dit is hier waar twee uitdagings lê.

1. Hoe bou en behou mens die band tussen die sustergemeentes wat deur berg-en-vlakte geskei is? 

2. Hoe bereik ons op digitale vlak die inwoners van Noord-Natal effektief met die Drie-Engele Boodskappe?

1. ‘n Familieband tussen sustergemeentes

‘n Fisiese familie struktuur kan breedvoerig opgedeel word in kleiner, direkte gesinseenhede. Twee of meer gesinne saam maak ‘n familie-eenheid. Kom ons pas hierdie struktuur toe op ons sustergemeentes. 

Binne in die gemeente is daar ‘n gesinsband tussen die lede met hulle eie liefde vir mekaar, drome oor die toekoms en uitdagings wat oorkom moet word. Kommunikasie vind hier op ‘n meer intiemer wyse plaas - aangesig-tot-aangesig, WhatsApp groepe, ensovoorts. 

Tussen sustergemeentes vind kommunikasie dikwels plaas deur raadvergaderings of kommunikasie kruisbestuiwing. Eersgenoemde is ‘n kritiese kommunikasie element om die susterskap van gemeentes te beskerm en te bou. Laasgenoemde gebeur wanneer lede van verskillende gemeentes lukraak aangesig-tot-aangesig met mekaar gesels of vir mekaar lukraak WhatsApp boodskappe stuur.

Dit is die oogmerk van hierdie webtuiste om meer gereelde, betroubare kommunikasie te bewerkstellig tussen die sustergemeentes om sodoende die verhouding tussen gemeentes te versterk en ‘n familie gevoel te bevorder. 

2. ‘n Evangelisasie gereedskapstuk

Een uiters belangrike kolpunt in die mandaat van die kerk is die verspreiding van die evangelie van Jesus Christus. 

Digitale tegnologie, soos WhatsApp, het die beweegruimte van individue vergroot. Voorheen was mense op sosiale vlak deur hulle geografiese gebied beperk (Oliveira 2019, 10). Hulle kon slegs diegene bereik wat binne hulle dorp gewoon het. Egter, met verbeteringe in digitale tegnologie, kan mense nou beide hulle fisiese geografiese gebied bereik asook mense van ander dorpe wêreldwyd. Die internet is ‘n “infobahn” - metafories ‘n snelweg van inligting (Wikipedia 2025, ‘Information superhighway’). Die internet, volgens Oliveira, laat individue toe om deel te neem aan beide die fisiese en virtuele gebiede van dorpe vêr weg van hulle s’n af (Oliveira 2019, 10). 

Ons moet dus ‘n nuwe vraag beantwoord “wie is my [digitale] buurman?” (Oliveira 2019, 13). Aanvullend “waar is my buurman? Hoe moet ek my buurman behandel?” (Oliveira 2019, 13). Dan nog, betree ons hierdie onbekende terein - “wat beteken dit om digitaal arm te wees? Hoe lyk haweloosheid in die netwerk samelewing? Hoe word wanhoop gemanifesteer in die fisiese-digtale realiteit? Hoe lyk randskepping in die digitale era?” (Oliveira 2019, 17). 

Oliveira se somslot is dat sendingwerk se “beklemtoning moet skuif van plek-tot-plek na persoon-tot-persoon” (Oliveira 2019, 18), want vandag kan almal orals wees deur die internet (Oliveira 2019, 10).

Mag God ons lei en help ten einde hierdie webtuiste en soortgelyke instrumente tot uitbreiding van Sy koninkryk volkome te benut. 

Maranatha! Welkom tuis.

Christus groete,
Leraar Saake Botha.

Bronne

Oliveira, Paulo C. 2019. ‘The Rise of the Digital Neighbor:  A Theoretical Concept for  Mission Renewal in the Digital Age’. Journal of Adventist Mission Studies 15 (1): 83–103. https://doi.org/https://dx.doi.org/10.32597/jams/vol15/iss1/8/

Wikipedia. 2025. ‘Information superhighway’. December 6. https://en.wikipedia.org/w/index.php?title=Information_superhighway&oldid=1326060103